Gayton McKenzie, die minster van sport, kuns en kultuur, het 21 geografiese naamsveranderinge en naamregistrasies in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal goedgekeur. Die besluit volg op aanbevelings van die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name (SAGNC). Hierdie naamsveranderinge sluit Graaff‑Reinet na “Robert Sobukwe Town” en Oos-Londen na “KuGompo City” in.
Volgens die departement is die stap deel van pogings om Suid-Afrika se naamlandskap te transformeer en inheemse tale en kulturele erfenis beter te weerspieël. Dit sluit ook aan by die regering se doelwit om historiese ongelykhede reg te stel. Die goedgekeurde name is tans in die proses om in die Staatskoerant gepubliseer te word. ‘n Volledige lys sal bekend gemaak word sodra dit verskyn.
Die Vryheidsfront Plus vra dat inwoners en die breër publiek die veranderinge ignoreer en by historiese name hou.
AfriForum het die naamsverandering as belaglik bestempel en sê dis ‘n duidelike voorbeeld van die wanbesteding van belastingbetalers se geld.
Die naam Graaff-Reinet dateer vanaf 1786 en is vernoem na Cornelis Jacob van de Graaff, ‘n Nederlandse goewerneur van die Kaapkolonie onder die VOC en sy vrou, Cornelia Reynet. In 1795 het burgers hulle van VOC-belastings losgemaak en die kortstondige Republiek van Graaff-Reinet gestig. Graaff-Reinet was ook die latere vertrekpunt vir die Groot Trek in die 1830’s.
Druk hier om meer te lees.





