MPUMALANGA. – ‘n 33-jarige man is Sondagmiddag in Sundra, naby Delmas, doodgeskiet ná ‘n beweerde rusie met ‘n bejaarde man (71) oor water. Die oorledene en verdagte het op dieselfde perseel gewoon.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, lt.kol. Jabu Ndubane, het die voorval omstreeks 17:00 plaasgevind. Met die gebied wat tans onder watertekorte gebuk gaan, het die verhuurder ’n JoJo-tenk vir gebruik in ’n motorhuis laat installeer vir wanneer daar geen munisipale watertoevoer is nie. Die tenk was aan die kant van die erf waar die verdagte gebly het.
Na bewering het die jonger man die motorhuis probeer binnegaan om die drukpomp aan te skakel om water te bekom. ’n Woordewisseling het ontstaan toe toegang glo geweier is. Die situasie het eskaleer en die man is geskiet. Die oorledene se vrou het probeer ingryp, maar is glo deur die verdagte gedreig en het veiligheid gaan soek. ‘n Groot groep gemeenskapslede het kort ná die voorval by die huis saamgedrom en was volgens berigte woedend en wou glo die verdagte se huis afbrand en hom doodmaak. Die polisie het vinnig ingegryp en die verdagte in hegtenis geneem.
Die jonger man is op die toneel dood verklaar. Die bejaarde man sal na verwagting Dinsdag op ‘n aanklag van moord in die Delmas-landdroshof verskyn.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel en ’n beroep op inwoners gedoen om die reg sy gang te laat gaan.





