Video in berig!
GAUTENG. – Die polisie het ‘n ernstige waarskuwing gerig nadat ‘n video op sosiale media versprei is waarin vroue vuurwapens in ‘n woning rondswaai in mekaar se rigting en dit oorhaal. Dit blyk dat die betrokke vroue moontlik nie behoorlik opgelei of gemagtig is om vuurwapens te hanteer nie – iets wat die polisie as ‘n ernstige gevaar vir sowel die betrokkenes as die breër gemeenskap beskou.
Tshenolo PI, ‘n privaat- ondersoekfirma, het die video-opname op Facebook gedeel en die polisie daarin gemerk (tag) en geskryf dat die gedrag gevaarlik en roekeloos is. Die firma het gevra dat die gemeenskap die vroue moet identifiseer. Die firma het aangedui dat dit klagtes sal indien en sal toesien dat die betrokkenes verantwoordbaar gehou word.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, moet enige persoon wat ‘n vuurwapen hanteer ingevolge die vuurwapenwet wettig daartoe gemagtig wees en oor ‘n geldige lisensie of permit beskik. Vuurwapen-eienaars wat ongemagtigde persone toegang tot hulle wapens verleen, kan krimineel vervolg word. Die wet geld ook waar ‘n speelgoedgeweer of ‘n nabootsingsvuurwapen so gebruik word dat dit vrees of die indruk van ‘n regte wapen skep.
Die polisie herinner die publiek dat vuurwapens nie vir vermaak of sosiale media-inhoud gebruik mag word nie. Enige onwettige besit of roekelose hantering kan anoniem by die polisie gerapporteer word.





