Riana Nel, gewilde sangeres en liedjieskrywer, het ‘n nuwe enkelsnit Laat U Wil vrygestel. Dit word as haar mees persoonlike enkelsnit beskou, eerlik en rou, ‘n geloofsbelydenis van haar eie reis van oorgawe en vertroue op God.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n verklaring die geliefde sangeres gee beheer oor met die diep roerende nuwe enkelsnit. Wat begin het as ’n eenvoudige gebed saam met haar kinders – die woorde van die Onse Vader – het later in ’n melodie onwikkel wat Riana diep geraak het. Ná ’n jaar van liedjieskryf het sy eerder gebid as beplan: “Laat U wil geskied, Heer.” Hieruit is Laat U Wil gebore – nie met kommersiële doelwitte nie, maar as ’n stukkie persoonlike aanbidding.
“Ek het nie hierdie liedjie geskryf om ’n treffer te wees nie. Dit was ek en God. Ek het dit geskryf omdat ek nie meer beheer oor alles wil hê nie. Ek vertrou Hom,” sê Riana. In teenstelling met van haar vorige werk wat soms evangelisties van aard was, fokus dié lied op ’n intieme verhouding met God. “Ons het nie gekyk na charts nie. Ons was nie gebind aan wat werk nie. Ons het bloot gehoop dit sou iemand anders ook in hulle stilte vind,” sê sy.
’n Span wat volgens Riana nie net tegniese bydraes gelewer het nie, maar die geestelike pad van die lied saam met haar gestap het, het die liedjie verwerk. Met kundiges soos Graaff, Floors, Arnold en Paulo beskryf die sangeres die proses as bevrydend: “Ek is nou in my middel-veertigs en weet nou meer as ooit: wanneer jy jou lewe neerlê, is dit waar jy werklik begin lewe.”
Nel sê Riana hoop dat die lied mense op ‘n dieper vlak sal aanraak: “Ek bid dat mense sal besef: hierdie God is goed. Hy sien wat ons nie sien nie. Hy is ons Verlosser.”
Ryno Cronje van New Ending Media het die musiekvideo bo-op ‘n berg verfilm. Dit is die sangeres se vyfde video saam met die gedugte span. Sy speel klavier in die natuur terwyl die son op haar skyn – ’n eenvoudige, eerlike toneel wat die kern van die lied vasvang. “Ons eerste location het toe gewerk. Selfs die klavier is op wonderbaarlike wyse bo-op die berg gekry. Ek het gehuil. Alles het anders gewerk hierdie keer,” vertel sy.
Laat U Wil is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Druk hier om toegang daartoe te verkry.