VIDEO-OPNAMES NUUSFLITS VERSKAF IN BERIG.
BLOEMFONTEIN – Die polisie in Mangaung Metro het ’n grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat twee juwelierswinkels op dieselfde dag, maar in twee verskillende winkelsentrums, die Northridge Mall en Mimosa Mall, deur gewapende rowers geteiken is.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die eerste rooftog het Sondagoggend omstreeks 09:45 by Northridge Mall plaasgevind. Ses onbekende mans het die juwelierswinkel binnegestorm, die eienaar en werknemers met gewere gedreig en hulle beveel om op die vloer te sit. Die groep het toe die kasregister en juweliersrakke leeg gemaak voordat hulle in ’n wit Suzuki Amaze gevlug het. Die waarde van die gesteelde juweliersware word op sowat R250 000 geskat.
Slegs ’n paar uur later, omstreeks 12:20, is ’n tweede juwelierswinkel in Mimosa Mall geteiken. Vyf gewapende rowers het die winkel binnegegaan, personeel gedwing om op die vloer te lê en juweliersware en ’n onbekende bedrag kontant gebuit. Hulle het daarna in ’n wit BMW, ’n wit VW Golf 7 en ’n wit Mercedes-Benz gevlug. Twee skote is in die winkel afgevuur, maar niemand is beseer nie.
Die polisie ondersoek nou die moontlikheid dat die twee rooftogte met mekaar verband kan hou.
Enigiemand met inligting oor die Northridge Mall-voorval kan lt.kol. Kholisile Alfred Nqukuva by 082 467 6081 bel. Inligting oor die rooftog in Mimosa Mall kan aan kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 526 2713 gegee word.





