Buitelanders in hegtenis ná vrou vir dood gelaat is

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

BLOEMFONTEIN – Twee buitelandse burgers, onderskeidelik 35 en 36 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat ’n vrou (33) ernstig aangerand en vir dood naby Rooidam buite Lourierpark agtergelaat is.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder, lt.kol. Thabo Covane, het ‘n gemeenskapslid die vrou opgemerk en onmiddellik die polisie ontbied. Sy het ’n diep snywond aan haar voorkop en ’n oop wond aan haar ken gehad en is met haas vir mediese behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem. Die Parkweg-eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad, onder leiding van lt.kol. Maphoka Mabofe, het Vrydag met die voorlopige ondersoek begin. Volgens bevindinge is die vrou glo deur ’n winkelier, wat by haar woning ’n winkelruimte gehuur het, en sy vriend aangeval. Die voorval hou glo verband met ’n kennisgewing wat die slagoffer aan die winkelier gegee het om die perseel te ontruim en hul huurkontrak te beëindig.

Donderdag het die winkelier na bewering aangebied om haar winkel toe te neem, maar het van die roete afgewyk en in die rigting van Lourierpark gery. Onder die voorwendsel dat hulle vir haar ’n plek wys waar hulle glo gholf speel, het hulle haar in ’n afgeleë gebied aangeval. Die slagoffer, wat tans herstel, kon belangrike besonderhede aan die polisie verskaf. ’n Saak van poging tot moord is by die Parkweg-polisiekantoor geopen. Die verdagtes is uiteindelik in Chris Hani Square vasgetrek. Die wit Nissan NP200 wat glo tydens die misdaad gebruik is, asook ’n gholfstok wat vermoedelik as wapen gebruik is, is in Tuurflagte teruggevind.

Die twee verdagtes sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief