KWAZULU-NATAL. – Padverkeersinspekteurs (RTI) in Park Rynie het op die eerste dag van die nuwe skoolkwartaal 36 leerlinge uit ‘n oorlaaide minibustaxi met donker, onwettige getinte ruite gehaal. Die taxi is geskut en die bestuurder, wat nie sy rybewys by hom gehad het nie, is met meer as R2 000 beboet.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê die departement gaan sy veldtog verskerp om padgebruikers, veral skoolkinders, teen roekelose bestuurders te beskerm. Volgens Duma sal RTI- en Operasie Shanela-spanne voortgaan om streng op te tree teen bestuurders wat kinders in oorlaaide voertuie vervoer of probeer om wetstoepassing te ontduik deur voertuie met donker getinte ruite te gebruik. Hy het gesê voertuie met getinte ruite wat nie aan die wet voldoen nie, sal van die pad verwyder word. Die wet vereis dat daar oogkontak tussen verkeersbeamptes en bestuurders moontlik moet wees. Minstens 35% van sigbare lig moet deur die syvensters en 70% deur die voorruit kan deurgaan.
Duma het ook daarop gewys dat bestuurders ingevolge die nuwe Aarto-puntestelsel twee strafpunte kan ontvang indien hulle sonder ‘n rybewys bestuur of met onwettige getinte vensters ry. Herhaalde oortredings kan daartoe lei dat ‘n bestuurder se rybewys opgeskort of uiteindelik gekanselleer word.





