GAUTENG. – ’n Transformatordefek het vanoggend (Vrydag) ’n brand by die License Hall Lofts-gebou naby die Bree-taxistaanplek in Johannesburg veroorsaak. Nooddienste is op die toneel en die gebou, wat glo as studenteverblyf gebruik word, moes ontruim word.
Volgens die City of Joburg sosialemediaplasing dui voorlopige inligting daarop dat die transformator onklaar geraak het kort nadat krag herstel is ná ’n vorige onderbreking. Die gebied is afgesper en ondersoek word ingestel. Die kragonderbreking raak dele van Newtown, Braamfontein, Parktown, die middestad en omliggende gebiede. Verkeersligte werk nie en motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.
Meer inligting sal deur die stad gedeel word wanneer dit beskikbaar is.





