’n Video waar Ponani Makhubele, ANC-parlementslid in Limpopo, ’n lewendige hoender se kop tydens ’n beweerde ritueel afbyt, doen weer op sosiale media die rondte.
Die video is oorspronklik in Oktober vanjaar gedeel kort nadat Makhubele haar roeping as sangoma aanvaar het. In die video kan daar gesien word hoe sy in ’n tradisionele “helingsrok” in ’n rivier met ’n hoender onder haar linkerarm instap. Daarna skeur sy die hoender se kop van sy lyf af met haar tande en die gooi die steeds fladderende hoenderlyf in die stroom in.
Makhubele het op haar Twitter-bladsy (deesdae genoem X) nadat die video vir die eerste keer gedeel is gesê dat sy nie omgee wat enigiemand van haar ritueel dink nie.
’n Sosialemediagebruiker, @whattingh, het die video Donderdag herdeel met die woorde “This is a South African minister of parliament. I don’t even know where to begin.” Sy video is Saterdagaand al meer as 4,5 miljoen keer gekyk en 3 600 keer gedeel.
In 2017 het ’n skolier in Florida, VSA, ’n hoender se kop in ’n wetenskapeksperiment afgebyt. Verder het Bixente Larralde, ’n Franse sportster, erge teenkanting in 2019 gekry toe hy ook ’n lewendige hoender se kop afgebyt het.
Sommige sosialemediagebruikers meen dat dit normaal tydens spirituele en tradisionele gebruike is. Ngeji Mpambani, gewese voorsitter van Nelson Mandela Tradisionele Praktisyns, het in 2017 in die media genoem dat die slag van hoenders “nuut, skokkend en boos” is.
Kyk die video hier:
This is a South African minister of parliament.
— whattingh (@whattingh) December 21, 2023
I don’t even know where to begin. https://t.co/poHX8fsgiD
Bronne: African Times, Daily Sun, ABC, The Gaurdian, Twitter





