LEES: Nagmerrie toe gesin deur gewapende rowers oorval word

Lees ook :

Foto's: BackaBuddy en Facebook

NOORDWES. – Donovan Hayes, sy vrou Claudette, en hulle kinders, 5 en 9 jaar oud, het kort voor die aanbreek van 2026 slagoffers van ‘n gewelddadige huisroof by hulle woning in Klerksdorp geword. Bure aan die oorkant van die straat het, onseker oor wat hulle hoor, die presiese oomblik wat Hayes geskiet word en hy skree en Claudette om hulp roep, op ‘n video (hier onder te sien) opgeneem. As gevolg van die afvuur van vuurwerk was die bure nie seker wat hulle hoor nie.

Die ondenkbare het gebeur toe die gesin die aand tuiskom. Hayes kon daarin slaag om sy gesin agter die huis se veiligheidshek te kry, maar is verskeie kere geskiet. Hy is tans in die intensiewesorgeenheid by Life Anncron-hospitaal, waar hy Nuwejaar ‘n noodoperasie moes ondergaan en later weer geopereer is om ‘n beskadigde nier te verwyder. ‘n Skarebefondsingsprofiel is geopen en daar is reeds meer as R70 000 vir Hayes, wat nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, ingesamel.

Op die Donovan Hayes Support Facebook-blad vertel Claudette hoe die Ou- en Nuwejaar hulle lewens onherroeplik deur misdaad verander het.

“My man, Donovan Hayes, is ’n liefdevolle man en ’n toegewyde pappa van twee pragtige kinders — ’n dapper 9-jarige seuntjie en ’n sagte, onskuldige 5-jarige dogtertjie. Soos soveel gesinne het ons die nuwe jaar met hoop verwelkom. Ná ’n kuier by familie het ons net voor middernag by die huis aangekom. Die kinders was opgewonde vir die vuurwerke en klappers wat om 12:00 sou afgaan. Ons was binne en toe weer buite, toe ons klein dogtertjie begin huil. Ek en my seuntjie het terug na binne gegaan om te kyk wat fout is.

In ’n oogwink het alles verander. My man het geskree: “Iemand is hier!” Hy het gesê ons moet dadelik agter die veiligheidshek gaan skuil. Ek het myself en my kinders agter die veiligheidshek gekry, en toe sien ek dit — ’n man binne ons huis met ’n mes. My man was nog buite … met ’n ander man wat ’n geweer gehad het. Drie skote is geskiet.

Die eerste skoot het my man getref net onder die long, deur sy lewer, en het tot by sy nier gegaan. Die tweede skoot het hom in sy been getref — net ’n paar millimeter weg van ’n slagaar. As daardie slagaar getref was, sou hy dit nie oorleef het nie. Die derde skoot het gemis en is teen die muur vas geskiet. Ek het my man op die grond sien lê.

In dieselfde oomblik het hulle ook my 9-jarige seuntjie met die geweer teen sy kop gemik. In ’n oomblik van genade het hy weggekom en gehardloop — net vinnig genoeg om sy lewe te red. My 5-jarige dogtertjie, in absolute vrees, het na haar boetie se kamer gehardloop, haarself toegesluit, sy baseball-kolf gevat en die venster uitgeslaan om te probeer ontsnap. Dat ’n kind só dink in ’n oomblik van gevaar, wys net hoe wreed hierdie wêreld geword het.

Ek het die veiligheidshek oopgesluit, na my man gehardloop, hom in die kar gesit en so vinnig as wat ek kon na die naaste hospitaal gejaag. My man werk in Australia en is nie op medies nie, maar daar was geen tyd om te dink nie. My man moes leef. Ons kinders het hul pappa nodig. Op pad hospitaal toe het my kinders hardop gebid tot ons Almagtige God om hul pappa se lewe te spaar. My man was nog by, maar in ondraaglike pyn.

Die dokters het hom dringend teater toe geneem. Net ná 04:00 die oggend is ons meegedeel hy is stabiel. Hy lewe. Dit was al wat op daardie oomblik vir my saakgemaak het. Maar die trauma het nie daar geëindig nie. Op 1 Januarie 2026 het ons nuwe jaar in vrees begin. Later daardie middag het die dokters vir my gesê sy nier hou nie op bloei nie en dat hy dringend per helikopter na Johannesburg oorgeplaas moet word. Dit was toe dat ek moes sê: ons het nie medies nie. Die dokters het toe ’n tweede opsie gegee — sy nier moet verwyder word. Om 19:30 is my man weer teater toe. Al wat ons nou kan doen, is bid dat my man — die pappa van my twee pragtige kinders — dit sal maak.

Ons hospitaalrekening staan tans op byna R400 000. Ek is nie iemand wat maklik vir hulp vra nie, maar hierdie is nie vir gemak of luuksheid nie — dit is vir lewe. Ek vra nederig: help ons asseblief. Ons weet nog nie wat die pad vorentoe inhou nie, maar ek glo en vertrou dat my man sal herstel. Enige donasie, groot of klein, sal help. Elke bydrae bring hoop. Asseblief…help my man.”

Nuusflits het polisiekommentaar gevra. Druk hier om na die BackaBuddy-profiel wat vir Hayes geskep is, te gaan.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

2 Responses

  1. Dis hartseer dat ‘n mens se nuwe jaar so kan begin.. Sterkte met due trauma verwerking en bid vir spoedige herstel.. Mag God julle behoed bewaar en koester…

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief