NOORD-KAAP. – Drie beskuldigdes is swaar vonnisse opgelê vir die moord op Judith Redelinghuys (71), ‘n afgetrede sakevrou tydens die Covid-19-inperking in Junie 2020. Redelinghuys is op 30 Junie 2020 dood by haar woning in ‘n veiligheidskompleks aangetref. Haar hande was agter haar rug vasgebind en sy is in haar swembad gegooi. Haar dogter en kleindogter het op haar liggaam afgekom.
Volgens die NVG-woordvoerder, Mojalefa Senokoatsane, het die Noord-Kaap-hooggeregshof, wat as rondgaande hof in Upington gesit het, Tumelo Mavlenter Sotho (44), Nkosinathi Ntombela (39) en Martatjie Engelbrecht (36) skuldig bevind aan moord en roof.
Verskeie stukke van Redelinghuys se spesiaal vervaardigde juweliersware is ná die misdaad vermis. ’n Deurbraak het gekom toe Ntombela probeer het om een van die gesteelde ringe by ’n pandjieswinkel in Upington te verkoop. Engelbrecht het aanvanklik beweer die ring behoort aan haar, wat tot Ntombela se vrylating gelei het. Verdere ondersoek het egter bewys die ring is uniek vir die oorledene in Kaapstad ontwerp en vervaardig. Ntombela is weer in hegtenis geneem en Engelbrecht later ook, nadat dit geblyk het sy het die ondersoeker doelbewus probeer mislei.
Die hof het bevind dat Sotho, wat in dieselfde woonkompleks gewerk en die oorledene se vertroue gewen het, ’n sleutelrol in die misdaad gespeel het. Ooggetuienis en selfoondata het die beskuldigdes by die oorledene se huis geplaas ten tyde van die moord.
Sotho en Ntombela is elk tot 15 jaar tronkstraf vir roof en lewenslange tronkstraf vir moord gevonnis. Die hof het gelas dat die 15 jaar saam met die lewenslange vonnis uitgedien word. Engelbrecht is tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Al drie is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Die NVG het die uitspraak verwelkom en gesê dit stuur ’n duidelike boodskap dat gewelddadige misdaad teen weerlose mense nie geduld sal word nie.





