NOORD-KAAP. – Tumelo Mavlenter Sotho, Martatjie Engelbrecht en Nkosinathi Ntombela is vir die moord en roof op ‘n sakevrou van Upington deur die Noord-Kaap-hooggeregshof in Upington skuldig bevind. Wyle Judith Redelinghuys (71) was ‘n afgetrede sakevrou van Upington wat op 30 Junie 2020 vermoor, met haar hande agter haar rug vasgebind, in haar swembad aangetref is.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Redelinghuys is by haar huis in ’n veilige behuisingskompleks op Upington vermoor. Verskeie stukke unieke juweliersware is as gesteel aangemeld.
’n Deurbraak in die ondersoek het gekom toe Ntombela een van die gesteelde ringe verkoop het. Engelbrecht het destyds die polisie mislei deur te beweer die ring behoort aan haar en het ’n beëdigde verklaring daaroor afgelê, wat aanvanklik tot Ntombela se vrylating gelei het. Verdere ondersoek het egter aan die lig gebring dat die ring spesiaal vir die oorledene in Kaapstad ontwerp is, wat tot Ntombela se herarrestasie en later ook Engelbrecht se inhegtenisneming gelei het. Bewyse het verder aangedui dat Sotho, wat in die kompleks gewerk het, mettertyd die vertroue van die oorledene gewen het en só gehelp het met die beplanning en uitvoering van die roof.
Die beskuldigdes het op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en regsverydeling tereggestaan. Ná ’n deeglike en ingewikkelde verhoor is Sotho en Nthombela aan roof met verswarende omstandighede en moord skuldig bevind. Engelbrecht is as medepligtige aan beide misdrywe skuldig bevind, maar is op regsverydeling onskuldig bevind.
Advokate Jacques Rosenberg en Terché Engelbrecht vir die staat, het oortuigende getuienis gelewer, insluitend selfoonopsporingsdata en ooggetuieverklarings wat die beskuldigdes aan die toneel verbind het. Die vervolging het borgtog suksesvol teengestaan en al drie beskuldigdes het gedurende die verhoor in aanhouding gebly.
Die saak is vir vonnisverrigtinge in die Upington-hooggeregshof tot 3–5 September uitgestel.





