NOORDWES. – Carel Fouché (33) is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op sy tweejarige stiefkleinseun, wat hy in Mei 2025 aangerand het. Die Stilfontein-streekhof het gehoor die kind het sowat 20 beserings opgedoen.
Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder, sê Fouché het op 15 Mei 2025 metamfetamien, (crystal meth) saam met die kind se ouma gerook voordat die seuntjie gedurende die nag begin huil het. Fouché het kwaad geword, die kind wakker gemaak en hom aangerand. Die volgende oggend het hy bure om hulp genader en na bewering voorgegee dat hy nie weet wat met die kind gebeur het nie. Nooddienste het die kind op die toneel dood verklaar. Die nadoodse ondersoek het getoon dat die kind stompgeweldbeserings opgedoen het wat met herhaalde houe met ’n voorwerp ooreenstem. Sommige beserings was ook versoenbaar met houe met ’n volwassene se oop hand of vuiste.
Die staat het aangevoer dat Fouché ’n weerlose kind vermoor het wat aan sy sorg en beskerming toevertrou is. Die hof het ook gehoor dat Fouché vorige veroordelings gehad het, insluitend vir geweldsmisdrywe en dat hy voorheen vier jaar tronkstraf vir huisbraak uitgedien het.
‘n Proefbeampte se verslag het bevind dat Fouché nie gerehabiliteer kan word nie en dat hy ‘n gevaar vir homself en die samelewing is. Fouché het skuldig gepleit, maar die staat het aangevoer dat dit nie genoeg rede was om ’n ligter vonnis op te lê nie. Die hof het die staat se vertoë aanvaar en hom tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
