WASHINGTON. – Libanon en Israel het vir die eerste keer in meer as drie dekades diplomatieke samesprekings gevoer in ’n poging om die konflik tussen Israel en die Iran-gesteunde Hezbollah te beëindig.
Volgens die BBC het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, wat die gesprekke bemiddel het, dit as ’n “historiese geleentheid” beskryf.
Libanon het op sy beurt gevra vir ’n skietstilstand en maatreëls om sy humanitêre krisis aan te spreek. Die twee lande het geen formele diplomatieke betrekkinge nie, en die laaste hoëvlak-gesprekke tussen hulle het in 1993 plaasgevind.
Meer as 2 000 mense is reeds dood sedert Israel se militêre operasies in Libanon op 2 Maart begin het, net dae nadat Amerikaanse en Israeliese aanvalle in Iran van stapel gestuur is.
Terwyl die samesprekings Dinsdag in Washington, D.C. plaasgevind het, het Hezbollah beweer dat hy minstens 24 aanvalle op Israel en Israeliese troepe in Libanon uitgevoer het. Hommeltuig- en vuurpylalarms het deur die dag in gemeenskappe regoor noordelike Israel weerklink.
Israel het gesê sy operasies in Libanon is daarop gemik om Hezbollah te ontwapen en te ontbind.
Libanon het intussen weer ’n beroep gedoen op ’n einde aan die konflik, wat byna 2 124 inwoners gedood en meer as 1,1 miljoen mense in die land ontheem het.
Ten spyte van die spanning het albei kante positief op die gesprekke gereageer. Libanon se ambassadeur in die VSA, Nada Hamadeh Moawad, het die samesprekings as “konstruktief” beskryf, maar beklemtoon dat ’n skietstilstand, die terugkeer van ontheemdes en humanitêre verligting noodsaaklik bly.
Israel se ambassadeur, Yechiel Leiter, het die gesprekke as ’n “uitstekende uitruiling” bestempel.
Bronne: BBC, Al Jazeera





