GAUTENG. – Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria het ter ondersteuning van Borskankerbewustheidsmaand die gebied voor die hospitaal met pienk beligting verhelder. Die pienk ligte is ’n sigbare herinnering aan die belangrikheid van bewustheid, vroeë opsporing en ondersteuning van persone wat deur borskanker geraak word.
Life Eugene Marais-hospitaal sê mammogramme speel ’n belangrike rol in die vroeë opsporing van borskanker en dat vroue met hul dokter moet bespreek hoe gereeld hulle ondersoek moet word. Die hospitaal moedig mense aan om bewus te wees van veranderinge aan hul borste en om mediese advies te kry indien hulle iets ongewoon opmerk.
Borskanker kan ook mans raak. Tekens kan onder meer ’n knop of swelling in die bors of oksel, veranderinge aan die tepel soos intrekking of afskeiding, asook veranderinge aan die vel van die bors insluit. ’n Harde, pynlose knop onder die tepel is een van die algemeenste simptome by mans, maar enige ongewone verandering behoort deur ’n dokter ondersoek te word.
Dié hospitaal se onkologie-eenheid bied verskeie vorme van kankerbehandeling, insluitend chemoterapie, immunoterapie en radioterapie. Die hospitaal sê sy TrueBeam-tegnologie maak dit moontlik om bestraling met groot akkuraatheid op kankerweefsel te rig, terwyl gesonde weefsel sover moontlik beskerm word. Mammogramme kan by die hospitaal se radiologie-eenheid bespreek word.
