OOS-KAAP. – Die liggaam van ’n sesjarige meisie is vanoggend (Vrydag) in ’n vlak graf by St. George’s-strand ontdek ná ’n intensiewe polisie-ondersoek. Twee verdagtes word nou op aanklag van moord aangehou.
Brig. Nobuntu Gantana sê die polisie het inligting oor persone van belang opgevolg, waarna ’n vrou (25) en ’n man (31) in Makhanda aangekeer en na Gqeberha gebring is. Kort daarna het die ondersoekspan die kind se liggaam by die strand in ’n vlak graf opgespoor. Die twee verdagtes word nou op aanklag van moord aangehou en sal na verwagting op 13 April in die Motherwell-landdroshof verskyn. Die identiteit van die kind sal bekend gemaak word sodra formele identifikasie afgehandel is.
Lt.genl. Vuyisile Ncata, die provinsiale polisiekommissaris, het die saak as uiters skokkend beskryf en het die polisiebeamptes geprys vir hul volgehoue werk om die verdagtes vas te trek.