GAUTENG. – Elizabeth Mokolo Moselakgomo (38), ook bekend as “Tsontso,” is sedert 10 September vermis toe sy gaan draf het en nie weer teruggekeer het na haar huis toe nie. Sy het haar 8-jarige dogter by die huis gelos. Die polisie het die soektog na haar verskerp.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê toe Moselakgomo later die aand nie terugkeer nie, het haar dogter familielede gekontak, waarna haar verdwyning by die polisie aangemeld is. Die polisie het sedertdien na haar gesoek en alle beskikbare leidrade opgevolg. Navrae is ook by hospitale en lykshuise gedoen, maar het tot dusver geen positiewe resultate opgelewer nie. Die omstandighede van haar verdwyning word ondersoek en die polisie volg elke moontlike leidraad op om vas te stel waar sy is en om haar veilig met haar familie te herenig. ‘n Beroep word op die publiek, media en sosialemediagebruikers gemaak om te help om Moselakgomo op te spoor.
Enigiemand met relevante inligting kan AO Elvis Manyike by 082 465 7249 te bel.