VRYSTAAT. – Die liggaam van ‘n sesjarige seun is onder ‘n bed in sy huis ontdek, waarna sy pa (28) in hegtenis geneem is.
Luidens ‘n verklaring deur polisiewoordvoerder, AO Mmako Mophiring, is die kind van Mashaeng, buite Fouriesburg, op 29 Januarie laas deur sy ouma gesien. Volgens die polisie het die pa glo die seun in die teenwoordigheid van die ouma met ‘n stok geslaan. Toe sy hom hieroor konfronteer, het hy na bewering gesê dat hy met sy kind kan maak soos hy wil. Die kind is daarna nie weer gesien nie.
Sondag, voor 11:00, het ’n gemeenskapslid die huis binnegegaan en opgemerk dat een van die slaapkamers donker en deurmekaar was, met klere wat rondgelê het. Dit het agterdog gewek en met behulp van ’n selfoonlig is die kind se liggaam onder die bed gevind.
Nooddienste en die polisie is ontbied en die seun is op die toneel dood verklaar. Die polisie het sigbare beserings aan sy liggaam opgemerk. ’n Moordondersoek is aan die gang. Die verdagte sal na verwagting Dinsdag op aanklag van moord in die Fouriesburg-landdroshof voorkom.





