KWAZULU-NATAL. – ‘n Liggaam, vermoedelik dié van Andrew Blackwood-Murray, die vermiste SAL- en akrobatiese vlieënier, het op ‘n Durban-strand uitgespoel. Die liggaam was in ‘n vlugpak geklee.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek by Durban-Sentraal-polisiekantoor geopen nadat die liggaam Vrydagaand op die Bay of Plenty-strand aan die Durbanse strandfront gekry is. Volgens die polisie is die liggaam, wat moontlik uit die see gespoel het, in ’n vlugpak gevind. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat dit moontlik die vlieënier kan wees wat verlede maand in die see neergestort het. Formele identifikasieprosesse sal uitgevoer word om die identiteit van die liggaam vas te stel.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê in ‘n verklaring hy hoop die ontdekking van die liggaam sal Blackwood-Murray se vrou en familie help om afsluiting te vind. Duma het gesê sy kantoor sal saamwerk met die SAPD en ander betrokke owerhede in die hantering van die saak. Hy het bygevoeg dat hy in verbinding sal tree met die burgemeester van eThekwini, rdl. Cyril Xaba, en die minister van vervoer, Barbara Creecy. Hy het voorts die NSRI, SAPD en ander rolspelers vir hulle volgehoue soektogte geprys.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het Vrydagaand omstreeks 22:30 veelvuldige oproepe ontvang van ‘n man wat op die strand gevind. Die polisie was reeds op die toneel teenwoordig. Paramedici is na die liggaam van ‘n man, vermoedelik in sy 60’s, geneem. Hy is dood verklaar.