LIMPOPO. – Dieketseng Mashego, die LUR vir gesondheid in Limpopo, het Donderdag die Letaba-hospitaal besoek waar ‘n vrou (33) van Dzumeri op 22 April aan ‘n drieling – twee dogters en ‘n seun – geboorte geskenk het.
Percy Moagi, LUR-woordvoerder sê, dr. Sithole en sy mediese span is met die susesvolle geboorte gelukgewens. Sy het ook die ma en babas met geskenke bederf ter viering van die nuwe toevoeging tot die familie. Die drieling en die moeder word tans by die hospitaal gemonitor en geniet goeie gesondheid.
Tydens haar besoek het Mashego ook haar ontevredenheid uitgespreek oor die stadige vordering met die ontwikkeling van ’n nierdialise-eenheid by die hospitaal. Sy sê die tempo van werk is onaanvaarbaar en beklemtoon dat die eenheid teen September vanjaar ten volle funksioneel moet wees.
Sy het die departement se verbintenis herbevestig om beter dienslewering te bied en te verseker dat alle gesondheidsfasiliteite in die provinsie verbeter word.





