Brekende Nuus
Misdaad

Ma weens beweerde kinderverwaarlosing in hegtenis geneem

Foto: Ter illustrasie

VRYSTAAT. – ’n Ma van drie is in Zastron in hegtenis geneem op ’n aanklag van kinderverwaarlosing, nadat haar sesjarige seun glo nie skool toe is nie omdat sy skoolklere nie gewas is nie.

Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê die seun is Dinsdag in die straat gevind, nadat hy nie skool toe gegaan het nie. Hy het glo gesê sy ma het hom winkel toe gestuur om mieliemeel te koop. Sy is later by ’n kroeg in Itumeleng opgespoor. Sy het volgens die polisie onder die invloed van alkohol gelyk en het haar vyfjarige kind by haar gehad. Die kind was glo vuil en het na bewering nie voldoende versorg gelyk nie. Daar is ook beweer dat albei kinders honger was. Die ma het ook ’n 14-jarige kind, wat volgens die polisie gereeld weens omstandighede van verwaarlosing by die huis nie skool bywoon nie.

Volgens Free State Care in Action het die gesin van Junie tot Desember 2025 ondersteuning van maatskaplike werkers ontvang, maar die ma het na bewering geweier om behandeling vir alkoholmisbruik te ondergaan. Die polisie sê daar is ook voorheen berig dat die kinders sonder kos was wanneer hulle ma onder die invloed van alkohol was. Na verwagting sal die vrou in die Zastron-landdroshof voorkom. Die saak sal ook die betrokke staatsdepartemente betrek.