SUID-AFRIKA. – As mens dink aan Kersfees, dink mens soms aan al die koue vleissoorte wat jy by jou ouma se huis geëet het.
Hier is ’n maklike skaapboud-resep wat lekker is, maak nie saak of dit warm of koud bedien word nie.
Bestanddele
- 4 groot uie, in dik skywe gesny
- 8 (of soveel jy wil) groot knoffelhuisies, grofgekap
- 8 groot takkies tiemie
- 6 groot takkies roosmaryn
- 20 ml gedroogde oreganum
- 8 dik skywe suurlemoen, die skil en wit gedeelte verwyder
- 1 lekker groot ontbeende lamsboud, oopgesny en platgedruk
- sout en growwe swartpeper (na smaak)
- 250 ml rooiwyn
- 250 ml lamaftreksel (jy kan beesaftreksel ook gebruik)
- 250 ml Griekse jogurt
- 125 ml olyfolie
- opdiening: takkies roosmaryn en kruisement
Metode
- Meng die uie, knoffel, tiemie, roosmaryn, oreganum en suurlemoen saam. Sit die helfte van die mengsel onder in ‘n groot baksakkie wat jy binne-in ‘n oondskottel sit.
- Geur die lamsboud met sout en peper en plaas bo-op die uiemengsel in die sakkie. Pak die res van die uiemengsel bo-op die vleis.
- Meng die wyn, aftreksel, jogurt en olie saam en gooi oor die vleis. Bind die sakkie toe (los bietjie speling vir uitsit van die hitte). Dit kan oornag in die yskas marineer as jy tyd het.
- Om gaar te maak, steek ‘n gaatjie in die baksak bo by die vasmaakplek en bak teen 190ºC vir ‘n uur. Verlaag dan die hitte na 180ºC en bak verder tot sag (ongeveer so 2½ ure).
- Maak die baksakkie versigtig oop en sit die boud op ‘n mooi opdienbord. Maak toe met foelie en hou warm. Giet die sappe in die baksakkie deur ‘n sif in ‘n kastrol in. Skep die oortollige vet af en kook die sous vining sonder ‘n deksel tot dit verdik na jou smaak.
- Sny of breek die vleis in porsies. Rangskik dit bo-op kapokaartappels, giet die sous oor en garneer met vars kruie.
Lewer 6 – 8 porsies
Bron: Marinda Kook
Marinda het tans twee resepteboeke, Marinda se Koskas en Marinda se Kinderkombuis met Sjef Sout en Prof. Pretzel, wat beskikbaar is.