Brekende Nuus
Misdaad

Man 20 jaar tronk toe vir verkragting van 95-jarige vrou

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – ’n 28-jarige man van Sesalong-dorp is tot effektief 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 95-jarige vrou. Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas word, maar dat sy identiteit weerhou word om die slagoffer te beskerm.

Mashudu Malabi, NVG-woordvoerder, sê die Polokwane-hooggeregshof het die beskuldigde tot 20 jaar vir verkragting gevonnis, asook ’n verdere agt jaar vir huisbraak met die opset om te verkrag. Omdat die vonnisse gelyktydig loop, bring dit die effektiewe vonnis op 20 jaar te staan. Die man het ingevolge artikel 112 van die Strafproseswet skuldig gepleit.

Die hof het gehoor dat die slagoffer, die ouma van sy vriend, aan hom bekend was. Hy het op 4 Oktober 2025 na sy vriend by die vrou se huis gaan soek. Hy het die huis deur ‘n oop deur binnegegaan waar die bejaarde vrou alleen was. Volgens sy skulderkenning het hy gesê hy wil seksueel met haar verkeer. Toe sy weier, het hy haar oorrompel en twee keer verkrag voordat hy daar weg is. Lede van die gemeenskap het hom die volgende dag aangekeer en aan die polisie oorhandig. DNS-bewyse het hom later positief aan die misdaad verbind.

Die staatsaanklaer, adv. Lerato Mohlaka, het ’n slagofferimpakverklaring aan die hof voorgelê wat die diep emosionele uitwerking van die misdaad op die vrou beskryf. Die staat het die hof versoek om die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf op te lê, maar die hof het 20 jaar effektiewe vonnis opgelê.