VSA. – ’n Man van Butler County in Pennsilvanië was glo só ontsteld nadat sy vrou om ‘n egskeiding aansoek gedoen het dat hy in ’n graafmasjien geklim en hul huis begin afbreek het met sy vrou en hul twee dogters nog binne.
Volgens CBS News het die 48-jarige Eric Pierwsza se vrou aan hom gesê hul huwelik is verby en dat sy reeds om ‘n egskeiding aansoek gedoen het.
Nadat hy na bewering vir sy vrou gesê het: “As dit verby is, sal ek die huis afbreek,” het Pierwsza in ’n konstruksie-graafmasjien geklim en dele van die huis begin sloop terwyl sy vrou en kinders nog in die huis was. Die voorval het glo plaasgevind ná ’n aand se drinkery.
Die geluide van die vernietiging kon gehoor word tydens die vrou se noodoproep na ‘n nooddiens. Niemand is egter beseer nie.
Pierwsza staan nou tereg op verskeie aanklagte, waaronder die veroorsaking van ’n ramp, die roekelose ingevaarstelling van lewens en wanordelike gedrag.
Bronne: CBS News, New York Post.





