KWAZULU-NATAL. – ’n Man in sy 20’s is dood nadat hy glo ’n polisiebeampte in die Berea-omgewing aangeval het. Die voorval het kort ná 07:30 vanoggend (Woensdag) in Botanic Gardensweg plaasgevind.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die Berea-polisiekantoor het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen vir ‘n voorval waartydens ‘n man dood is tydens ‘n konfrontasie met ‘n polisiebeampte wat van diens af was. Die betrokke polisiebeampte was glo in die verkeer toe ’n onbekende man hom skielik genader en probeer het om sy selfoon deur die motorvenster te gryp. Tydens die konfrontasie het die verdagte na bewering probeer om die beampte met ’n mes aan te val. Die beampte het sy vuurwapen uitgehaal en op die man geskiet. Die verdagte het van die toneel gevlug, maar ’n kort ent verder op die sypaadjie inmekaargesak waar hy later aan sy beserings beswyk het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê paramedici het die man met ’n skietwond aan die kop aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar. Volgens voorlopige inligting het die man na bewering ’n SAPD-lid aangeval, waarna die beampte teruggeskiet het. Verskeie veiligheidsdienste en die polisie was reeds op die toneel met die aankoms van nooddienste.
Jamieson sê die presiese omstandighede van die voorval word deur owerhede op die toneel ondersoek.





