NOORDWES. – ’n Man is Sondagoggend vroeg ernstig gewond tydens ’n skietvoorval, met ‘n beweerde huisinbraak by ‘n woonlandgoed in Hartbeespoortdam. Die man het glo probeer om sy kleinkind tydens die voorval te beskerm, toe hy gewond is.
Hartbeespoort Emergency Medical Service (H.E.M.S.) sê dié diens se paramedici is na die toneel ontbied, waar hulle die gewonde man met ’n ernstige skietwond aangetref het. Noodpersoneel het hom op die toneel gestabiliseer voordat hy vir verdere behandeling na ’n hospitaal in Brits geneem is. Weens die erns van sy toestand is ’n mediese helikopter later ontbied om hom na ’n gespesialiseerde hospitaal in Johannesburg oor te plaas.
H.E.M.S. sê voorts die voorval word ondersoek. Nuusflits het polisiekommentaar gevra.





