Brekende Nuus
Nuus

Man in hegtenis in ondersoek na seksuele misdrywe in Hilton

Foto: Brad Nathanson en ter illustrasie

KWAZULU-NATAL. – Die man wat in die middelpunt van ’n ondersoek na beweerde seksuele misdrywe in Hilton staan, is in hegtenis geneem.

Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig ‘n man (32) is in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van ‘n 15-jarige tienermeisie in Hilton deur ‘n verdagte wat aan haar bekend is. Magwaza het voorts bevestig dat die beskuldigde vandag in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn het.

Brad Nathanson van Brad Nathanson Investigations sê die polisie het verskeie beëdigde verklarings verkry en ou saakdossiere wat tot 2017 terugdateer, herondersoek. Hy sê 79 vroue het nou met hul ervarings vorendag gekom. Nuusflits het op 10 Oktober berig dat 74 vroue na vore gekom het en dat twee strafdossiere geregistreer is.

Nathanson het die vroue bedank wat na vore gekom het en mense met inligting gevra om hom privaat te kontak. Nathanson het nie die man se naam en die besonderhede van enige formele aanklagte in sy verklaring bekend gemaak nie.