Brekende Nuus
Afrikaans

Man kry 10 jaar vir panga-aanval op vriendin

Foto: Ter illustrasie (Canva)

KIMBERLEY. – Andile Ngonyoko Mesark (30) van Jan Kempdorp is op Donderdag 3 September tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis op die aanklag van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed aan te rig nadat hy sy vriendin met ’n panga aangeval het.

Volgens lt.kol. Thabo Litabe, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, het die beskuldigde op 25 Julie 2024 omstreeks 23:00 in die Valspan-woonbuurt op Jan Kempdorp sy vriendin met ’n panga aangeval.

Luidens ’n verklaring deur die SAPD het die slagoffer vertel dat sy en Mesark by sy huis was toe hy ’n oproep ontvang het en buitentoe gegaan het om dit te beantwoord. ’n Argument het gevolg. Mesark het sy selfoon na haar gegooi en toe ’n panga uitgehaal.

Hy het haar met die panga in die gesig en maag geslaan. Daarna het hy haar uit die erf gesleep en haar daar verder aangerand.

Die slagoffer het die saak by die Jan Kempdorp-polisiestasie aangemeld. Speursers. Andrew Ntlati is aangestel om die saak te ondersoek.

Mesark is op 3 September 2024 in hegtenis geneem. Hy het nie om borgtog aansoek gedoen nie en het in aanhouding gebly.

Terwyl hierdie saak nog hangende was, is Mesark ook aan gewapende roof skuldig bevind. Hy is daarvoor tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die hof het gelas dat twee jaar van dié vonnis gelyktydig met die sewe jaar vir gewapende roof uitgedien word. Mesark sal dus altesaam agt jaar vir die aanrandingsaak uitdien. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die distrikskommissaris van Frances Baard, genl.maj. Gabathata Makgari, het die vonnis verwelkom en speursers. Ntlati vir sy noukeurige ondersoek geloof.