Hoeveel flieks kan jy in een jaar kyk? Vir die 60-jarige Amerikaner Glenwood Hoskin jr. was die antwoord 1 207 – en hy het elkeen daarvan in ’n bioskoop gekyk.
Die afgetrede belastingbeampte van Pennsilvanië het daarmee ’n Guinness-wêreldrekord opgestel vir die meeste flieks wat iemand binne een jaar in ’n bioskoop gekyk het. Guinness World Records het sy prestasie op Vrydag 30 Oktober bekend gemaak.
Hoskin het van April 2024 tot April 2025 gemiddeld 3,3 flieks per dag by ’n Regal-bioskoop in York Haven gekyk. Hy het die vorige rekord van 777 flieks, wat deur Zachariah Swope van Amerika opgestel is, met 430 verbeter.
Om soveel flieks in te pas, moes Hoskin sy dae sorgvuldig beplan. Hy het die bioskoop se program vooraf bestudeer en probeer om soveel moontlik vertonings tussen vroegoggend en middernag by te woon.
Sy liefde vir flieks het die uitdaging makliker gemaak. Hy het veral animasieflieks en komedies geniet, hoewel hy ook verras was deur hoeveel ander flieks hom beïndruk het.
Onder sy gunstelinge was The Wild Robot en Deadpool & Wolverine.
Die bioskooppersoneel het hom later goed leer ken en selfs gehelp om uit te werk watter flieks die kortste was sodat hy nog vertonings by sy dag kon inpas.
’n Jaar se bioskoopbesoeke klink na ’n duur stokperdjie, maar Hoskin het ’n Regal Unlimited-lidmaatskap gebruik wat hom sowat $28 (ongeveer R480) per maand gekos het.
Hy het ook kos van die huis af saamgeneem en tussen vertonings geëet om geld te bespaar.
Om nie die hele dag net te sit nie, het hy tussen flieks binne en buite die bioskoop gaan stap. Dit het hom gehelp om daagliks oefening te kry.
Hoskin het die uitdaging geniet omdat dit hom uit die huis gekry het en hom ’n doelwit gegee het om na te streef.
Hoewel sy oorspronklike mikpunt bloot was om die vorige rekord van 777 flieks te verbeter, het hy uiteindelik veel meer reggekry as wat hy verwag het.
En ná meer as 1 200 flieks is een ding duidelik: Hoskin se liefde vir die groot skerm het beslis nie verdwyn nie.
Bron: Guinness World Records.