Volgens die DA se ontleding van die jongste misdaadstatistiek is sowat 47 verkragtings van kinders van Julie tot September daagliks in Suid-Afrika aangemeld.
Lisa Schickerling en Ian Cameron, DA-parlementslede, sê 4 362 van die 9 908 verkragtingsake wat die polisie in die tweede kwartaal van die 2026/27-boekjaar aangeteken het, het kinders betrek. Landwyd is gemiddeld sowat 108 verkragtings per dag aangemeld.
Hoewel die nasionale totaal volgens die DA met 2,4% teenoor dieselfde kwartaal verlede jaar gedaal het, weerspieël die syfers slegs sake wat by die polisie aangemeld is. Die party vra dat forensiese laboratoriums behoorlik funksioneer, dat gespesialiseerde speurders genoeg ondersteuning kry en dat slagoffers beter beskerm word.
Klassifikasie van bendemoorde bevraagteken
Die polisie het in dié kwartaal 5 590 moorde aangeteken. Volgens die DA is 261 as bendeverwant geklassifiseer, waarvan 208 in die Wes-Kaap was. Die party sê 2 939 van die 5 396 moorde wat in die polisie se ontleding van moontlike oorsake ingesluit is, is nie deur die gelyste kategorieë verantwoord nie. Die DA vra Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, om te verduidelik hoe die polisie bendemoorde klassifiseer en die syfers verifieer.
Hoeveel inhegtenisnemings onder Operasie Prosper het tot vonnisse gelei?
Volgens die DA blyk dit uit ’n parlementêre antwoord aan DA-LP Nicholas Gotsell dat die departement van justisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur nie hofsake afsonderlik aan Operasie Prosper koppel nie. Die party vra hoe die regering vasstel hoeveel inhegtenisnemings onder dié operasie tot vervolgings en skuldigbevindings lei. Die DA vra ook dat Cachalia die Wes-Kaapse teenbende-eenheid se personeelsterkte en operasionele vermoë bekendmaak.
Bron: DA