Brekende Nuus
Nuus

Man met vermoedelik efedrienpoeier in Bloemfontein vasgetrek

Foto: SAPD

VRYSTAAT. – ’n 33-jarige man is Saterdagaand in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hy met ’n poeieragtige middel, wat vermoedelik efedrien is, in sy besit betrap is.

Kaptein Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die Bloemfonteinse blitspatrollie was omstreeks 20:30 op roetinepatrollie in Monumentweg, Oranjesig, toe hulle ’n man opgemerk het wat verdag optree. Hulle het hom genader en deursoek en ’n swart plastieksak met die poeieragtige middel gevind. 

Die Bloemfonteinse K9-eenheid se dwelmopsporingseenheid is ontbied om die middel te help identifiseer. ’n Dwelmopsporingshond het positief op die stof gereageer. Die middel is vermoedelik efedrienpoeier en het volgens die polisie ’n geraamde straatwaarde van R21 000.

Die verdagte is by die Parkweg-polisiestasie in hegtenis geneem en word aangehou hangende verdere ondersoek. ’n Saak van dwelmbesit is geregistreer en die middel is as bewysstuk gekonfiskeer.