Brekende Nuus
Afrikaans

Man op Kersdag doodgeskiet

'n Man is op Kersoggend deur sy familie opgespoor waar hy na bewering tereggestel is.

Taxi-operateur op Kersdag tereggestel
Foto: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – Mbuyiseni Allen Buthelezi (41) se familie het Dinsdagoggend sy liggaam in Hazelmere ontdek. Hy het skietwonde in sy kop opgedoen en sy kop was gedeeltelik afgesny.

Reaction Unit South Africa sê ‘n oproep vir hulp is omstreeks 06:42 ontvang. Reaksiebeamptes en paramedici het met aankoms op die toneel gevind die man was reeds oorlede. Hy het twee skietwonde aan die agterkant van sy kop gehad. Daar was boonop ‘n diep snywond aan sy nek wat ook sy kop gedeeltelik van sy lyf afgesny het. Hy het ook sigbare beserings aan sy lyf gehad.

Volgens familielede was die oorledene ‘n taxi-operateur en was na bewering op Kersdag saam met sy kondukteur. Die oorledene het glo omstreeks 13:00 ‘n oproep vir ‘n ontmoeting ontvang en het glo eers die kondukteur by sy huis afgelaai en toe weggery.

Daarna kon die oorledene nie weer bereik word nie. Sy familie het glo inligting ontvang van sy taxi wat langs ‘n grondpad staan. Hulle het die taxi opgespoor wat steeds geluier het.

Na ‘n soektog is die liggaam van Buthelezi meters weg van die taxi in bosse gevind.

Afgevuurde 9 mm-doppe is in die area gevind.

Al die oorledene se besittings was steeds by hom, maar ‘n .45 kaliber-handwapen was vermis

‘n Moordsaak word ondersoek.

Bron: Reaction Unit South Africa