Brekende Nuus
Misdaad

Man op kleinhoewe in Pretoria doodgeskiet

Foto: Google Maps

GAUTENG. – ’n Man, mnr. Dube, is Sondag kort ná middernag tydens ’n gewapende rooftog op ’n kleinhoewe op Hebronweg in Haakdoornboom, Pretoria, noodlottig gewond.

Kapt. Johan van Dyk van die polisie sê aan Nuusflits drie verdagte mans, een met ‘n vuurwapen, het die perseel omstreeks 00:15 binnegedring. Die klaagster was in haar kamer toe sy geluide by haar deur hoor. Toe sy ondersoek instel, is sy deur die gewapende verdagte gekonfronteer. Sy het ’n besering aan haar voorkop opgedoen en moes mediese behandeling in ‘n hospitaal ontvang.

Geld en selfone is deur die verdagtes van die inwoners geëis voordat hulle na die ander drie kamers is om ook geld en selfone buit te maak. Toe die verdagtes mnr. Dube se kamer binnegaan, het hy weerstand gebied en geweier om sy besittings te oorhandig. Hy is daarna twee keer in die laerug geskiet. Die verdagtes het voortgegaan om die kamer te deursoek en het met Dube se selfoon te voet van die toneel gevlug. Dube is na ’n hospitaal geneem, waar hy later aan sy skietwonde beswyk het. Sy vrou is in die voorval getraumatiseer.

Die polisie het op twee leë doppies wat op die toneel gevind is, beslag gelê. Dit sal as deel van die ondersoek en bewysstukke aan die forensiese wetenskaplaboratorium vir ballistiese ontleding voorgelê word. Die ondersoek duur voort.