GAUTENG. – Drie mense is vroeër vanoggend (Vrydag) dood ná ’n beweerde huishoudelike rusie in Kanana Ext 4, Rabie Ridge, toe ’n man glo verskeie skote in ’n huis geskiet en daarna gevlug het. Die verdagte, ‘n veiligheidsbeampte, is later dood gevind nadat hy glo homself tydens polisie-agtervolging geskiet het.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het die verdagte en sy vriendin in ’n argument betrokke geraak. Hy het haar glo geskiet en daarna nog twee mense in die huis doodgeskiet. Die polisie is ontbied, waartydens nog twee vroue en ‘n polisiebeampte beseer is. Hulle ontvang tans mediese behandeling in ‘n hospitaal. Die drie slagoffers is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte het ná die skietery met ‘n voertuig gevlug wat hy tussen Ivory Park en Tembisa aan die brand gesteek het. Hy het daarna glo ’n Toyota Avanza gekaap, maar die bestuurder het die voertuig se opsporingstelsel geaktiveer, wat die polisie op sy spoor geplaas het. K9-eenhede het die voertuig op die N14 opgespoor, waar die verdagte glo homself geskiet het toe polisie hom probeer stop het.
Sake van moord, poging tot moord, geregtelike doodsondersoek en kaping word ondersoek.





