WES-KAAP. – ’n 54-jarige man van Plattekloof is Saterdag dood nadat hy glo bewusteloos geraak het terwyl hy saam met sy 23-jarige seun by Bloubergstrand branderplank gery het.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê die NSRI-Melkbosstrand is omstreeks 10:20 ontbied nadat ooggetuies berig het dat ’n branderplankryer in die branders in die moeilikheid is. Volgens inligting het die man skielik bewusteloos geraak, waarna sy seun hom met behulp van sy branderplank en ‘n omstander met ‘n pienk NSRI-reddingsboei tot op die strand geneem het.
KPR is deur omstanders begin en paramedici het met uitgebreide resussitasiepogings voortgegaan. Ondanks alle pogings is die man op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en die man se liggaam is aan die polisie en forensiese patologie oorhandig. Beraders het die familie op die toneel bygestaan.





