Brekende Nuus
Nuus

Man tydens roof doodgeskiet, vrou kon vlug

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n 41-jarige man is tydens ’n gewapende roof langs die N1-snelweg in die suidelike rigting, naby die Carousel-plaza, doodgeskiet waarna ’n verbygaande voertuig oor sy liggaam gery het. Die voorval het Sondag 18 Oktober omstreeks 21:40 gebeur toe hulle stilgehou het.

Volgens die vrou het twee onbekende mans hulle met ’n vuurwapen beroof toe hulle langs die pad stilgehou het. Die egpaar het te voet probeer vlug. Die vrou het skote gehoor. Toe sy omkyk, het sy haar man op die grond sien lê met ’n skietwond aan die agterkant van sy kop. ‘n Voertuig het boonop bo-oor hom gery. 

Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-polisiewoordvoerder, sê ’n moordsaak word ondersoek. Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar. ’n Afsonderlike saak van roekelose en nalatige bestuur is ook teen die bestuurder van die voertuig geopen wat na bewering oor die man gery het.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat die voorval gesien het of inligting het wat die ondersoek kan help, om die polisie te kontak.