VRYSTAAT. – ‘n Man (48) is in hegtenis geneem op aanklag van meineed, nadat hy glo ’n vals verklaring aan die polisie gemaak het oor die beweerde kaping van sy voertuig.
Konst. Maselela Langa, polisiewoordvoerder, sê die man het Sondag ’n saak van kaping geopen en beweer hy is Saterdag by sy woning aangeval en dat sy voertuig gesteel is. Volgens die polisie-ondersoek is die voertuig later by ’n vriend opgespoor, wat aan beamptes gesê het dat die man self die voertuig daar gelos het nadat hy glo in ’n ongeluk betrokke was terwyl hy onder die invloed van alkohol was. Die man is vandag (Vrydag) in hegtenis geneem nadat hy tydens sy inhegtenisneming erken het dat hy die polisie mislei het.
Hy sal na verwagting op 20 April in die hof verskyn.





