WES-KAAP. – Alan Bushby (52) is effektief 10 jaar tronkstraf in die hooggeregshof opgelê vir die handel in 400,84 kilogram kokaïen. Hy is skuldig bevind aan die invoer en verspreiding van kokaïen wat uit internasionale waters naby Stilbaai die land binnegebring is. Bushby het ook ingestem om teen sy medebeskuldigdes te getuig.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die vonnis word verwelkom. Renaldo Beukes (35), Dicky Johan Benzien (50), Mathew Fourie (23), Jordan Cullingworth (29), Nemanja Vuckovic (31), Marko Ninc (41) en Josip Ivanovic (39) sal vandag weer in die hooggeregshof voorkom. Die groep staan tereg op aanklagte van moord en dwelmhandel, terwyl drie van hulle ook aangekla word omdat hulle glo onwettig in Suid-Afrika is.
Uit die hofstukke blyk dit dat Bushby in Julie 2024 deur Mathew Smith genader is om vinnig geld te maak deur te help om ’n vrag kokaïen uit die see te gaan haal. Hy het ingestem omdat hy finansiële druk ervaar het en ’n nuwe toerisme-onderneming in Namibië wou begin. Op die oggend van 18 Julie 2024 is hy na die hawe by Stilbaai geneem waar hy saam met ander op ’n rubberboot vertrek het. Instuksies oor ‘n ligging is ‘n paar keer ontvang en verander, waarna nog ‘n persoon by die hawe gehaal moes word saam met nog petrol. Dié betrokke persoon het wel die regte ligging ontvang. Hierna het hulle ‘n skip met flitsende ligte wat aan en af gesit was, teëgekom. Die dwelms is in die see gegooi, waarna dit uit die see gehaal en aan boord beveilig is.
Terwyl hulle op pad terug was, het geweld uitgebreek toe die man wat laaste by die hawe gehaal was en die ligging van die boot verskaf het, doodgeskiet is. Bushby het getuig dat hy geskok en bang was en nie bewus was dat daar ’n vuurwapen aan boord was, of dat iemand beplan het om die slagoffer te vermoor nie.
Die groep het later teruggekeer hawe toe en het die volgende dag net op die boot op see deurgebring. Daarna het hulle met ‘n sportnutsvoertuig na Jongensfontein vertrek. Die polisie het later die voertuig gestop, waartydens Bushby en een van die ander mans gevlug en na ‘n gastehuis in Stilbaai is waar hulle later dieselfde aand in hegtenis geneem is.
Bushby het geen geld vir sy rol in die operasie ontvang nie. Hy het ook aan die hof gesê dat die persoon wat hom aanvanklik genader het, later in ’n voorval wat vermoedelik selfdood was, oorlede is.
Die saak word vandag in die hooggeregshof voortgesit.





