Brekende Nuus
Afrikaans

Man wat ‘ma en suster se koppe afsny en in puttoilet versteek’ vandag in hof

'n Man wat van die dubbele grumoord van sy ma en suster beskuldig word, verskyn vandag in die hof.

Man skiet ma en suster en sny koppe af
Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (51) van Esigodini (Kalusizi) in mid-Illovo wat van die dubbele grumoord op sy ma (87) en suster (39) beskuldig word, is Woensdagmiddag in hegtenis geneem. Die oorledenes se koppe is in ‘n puttoilet ontdek.

Kol. Robert Netshiunda sê ‘n meisie (12) het die grumoorde aanskou, maar kon daarin slaag om te ontvlug en het vir hulp na die bure gegaan.

Polisielede het hulle volgens Netshiunda na ‘n skietvoorval gehaas.

Met aankoms op die toneel is die oorledenes se liggame sonder koppe in ‘n plas bloed aangetref. Tydens deursoeking is die ma en dogter se koppe in ‘n puttoilet, waar dit weggesteek was, ontdek.

Die mes wat tydens die moorde gebruik is, was ook op die toneel.

Die verdagte is later in hegtenis geneem. Die polisie het ‘n ongelisensieerde vuurwapen in sy besit gevind. Volgens vermoede is dit die vuurwapen wat glo gebruik is om die oorledenes dood te skiet voordat hulle koppe met ‘n mes afgesny is.

Die verdagte sal vandag in die Richmond-landdroshof voorkom.

Bron: SAPD