GAUTENG. – Afzal Abramjee (40) en Manuel Sarafim Pinto (49), ‘n Mosambiekse burger, wat daarvan aangekla word dat hulle onwettig ‘n privaat voertuig met blou waarskuwingsligte toegerus het, is elk in die Pretoria-landdroshof op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Tshegofatso Makhudu, NVG-woordvoerder, sê die polisie het op 4 Junie tydens ‘n padblokkade in Wierdabrug ‘n voertuig voorgekeer wat deur Abramjee se vrou bestuur is. Beamptes het glo vasgestel dat die voertuig met blou ligte toegerus was, wat teenstrydig met die wet is. Die vrou het aan die polisie gesê die voertuig behoort aan haar man. Abramjee is na die toneel ontbied en hy en sy vrou is daarna na die Wierdabrug-polisiekantoor vir ondervraging geneem. Daar is op die voertuig beslag gelê en hulle is later hangende verdere ondersoek vrygelaat.
Nadat die ondersoek afgehandel is, is Abramjee van Centurion en sy mede-beskuldigde, Pinto (49), wat in Robertsham, Johannesburg woon, op 3 en 4 Julie onderskeidelik in hegtenis geneem. Die staat het nie borgtog teengestaan nie, maar het die hof versoek om streng voorwaardes op te lê om die ondersoek te beskerm. Die hof het gelas dat albei beskuldigdes een keer per week by hul naaste polisiekantoor moet aanmeld, hul paspoorte binne 24 uur aan die ondersoekbeampte moet oorhandig en geen kontak met staatsgetuies mag hê nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 5 Augustus uitgestel.





