MPUMALANGA. – Die liggaam van ‘n masjienoperateur is Vrydagoggend uit ‘n watergevulde steengroef naby Delmas gehaal nadat die stootskraper (dozer) wat hy bestuur het teen ‘n steil helling afgetuimel en in die water beland het.
Delta 1 Rescue Diving is omstreeks 07:30 na die toneel ontbied nadat berig is dat die operateur steeds in die masjien vasgekeer was. Die reddingspan is ontplooi omdat lede van Mpumalanga se waterpolisie in daardie stadium reeds by ‘n ander voorval naby Piet Retief besig was.
Met hul aankoms het Delta 1 Rescue saam met die mynbestuur, ER24, die plaaslike brandweer en die myn se noodspan die toneel beoordeel en ‘n gesamentlike herwinningsplan opgestel. Met die hulp van die myn se operasionele span is die operateur se liggaam daarna uit die stootskraper gehaal.
Die liggaam is aan betrokke owerhede oorhandig. ‘n Voorlopige ondersoek na die oorsaak van die voorval is aan die gang.








