WES-KAAP. – Nege mense, insluitend sewe tieners en twee volwassenes wat deel was van verjaardagvieringe, is Sondagmiddag van verdrinking gered nadat hulle in sterk seestrome by Kleinmond se hoofstrand vasgevang was.
Volgens ‘n verklaring van Craig Lambinon van die nasionale seereddingsinstituut, is reddingspanne omstreeks 15:00 ontbied. Met aankoms op die toneel is vasgestel dat die groep, wat bestaan het uit 13-jarige seuns en meisies, sowel as ’n ma en pa wat probeer help het, in seestrome vasgekeer was.
NSRI-reddingswemmers, bygestaan deur twee manlike omstanders en met behulp van reddingsboeie en die NSRI se reddingsvaartuig, het daarin geslaag om al nege persone veilig uit die water terug strand toe te bring. Paramedici het die groep op die toneel ondersoek. Sommige het ligte simptome van byna-verdrinking getoon, maar geeneen het hospitalisering nodig gehad nie en al die tieners is in hulle ouers se sorg gegee.
Volgens die NSRI was die tieners by ’n 13de verjaardagviering toe hulle in die seestrome vasgevang is. Die vinnige reaksie van nooddienste en die hulp van omstanders is geloof.





