GAUTENG. – Vusimuzi “Cat” Matlala het sy verhouding met die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, tydens sy getuienis voor die Madlanga-kommissie probeer afmaak as dié van bloot ’n kennis.
Matlala het Maandag voor die kommissie in Pretoria verskyn, waar getuienisleier Mahlape Sello SC hom uitgevra het oor die aard van sy verhouding met Sibiya. Op die vraag of Sibiya ’n vriend was, het Matlala gesê dit was nie ’n vriendskaplike verhouding nie. Hy het Sibiya later beskryf as “iemand wat ek geken het.”
Volgens die SABC het Matlala bevestig dat hy Sibiya by verskeie geleenthede ontmoet het. Volgens hom het hulle drie of vier keer ontmoet in verband met ’n dispuut oor ’n huurkontrak van die departement van openbare werke. Hy het ook bevestig dat hy die verlowingspartytjie van een van Sibiya se kinders bygewoon het. Hy was terselfdertyd terughoudend om verdere besonderhede oor sy verhouding met die senior polisiebeampte te verskaf. Matlala het hom herhaaldelik op sy reg teen selfinkriminasie beroep en gesê hy wil nie op sake ingaan wat deel van ’n lopende ondersoek is nie.
Die kommissie ondersoek intussen steeds die beweerde verbintenisse tussen sakelui, misdaadfigure en senior polisiebeamptes. Matlala se getuienis voor die kommissie duur vandag (Dinsdag) voort. Die fokus is onder meer op weglatings in sy aanvullende beëdigde verklaring, insluitend verwysings na senior polisiebeamptes.
Bronne: SABC News, eNCA , The Presidency