Medelye stroom in ná ’n noodlottige motorongeluk in Nelspruit (Mbombela) waarin die bekende musiekpromotor Mara van der Bergh en haar jarelange assistent, Samantha Fuller, oorlede is. Country-legende Tommy Dell, wat ook in die voertuig was, is in die hoësorgeenheid van ’n privaat hospitaal in Mbombela opgeneem. Sy toestand word as kritiek beskryf.
Volgens Ignaz Streicher, woordvoerder namens die familie, was Van der Bergh vir meer as drie dekades ’n bekende figuur in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en het onder meer saam met country-legendes soos Lance James, Barbara Ray, Clive Bruce en Tommy Dell gewerk. Hy sê ook Dell se twee dogters is langs hulle pa se bed. Die familie het versoek dat verdere besonderhede oor sy toestand slegs deur middel van ’n amptelike verklaring bekend gemaak word.
Barbara Ray en Clive Bruce, wat kort ná die ongeluk saam met die sangeres Nadine Burness op die toneel was, het die omvang van die tragedie eerstehands beleef. Ray het die ongeluk kort daarna as ’n reuse-tragedie beskryf. Van der Bergh se eggenoot en kinders het die media versoek om hul privaatheid tydens die rouproses te respekteer. Begrafnis- en gedenkreëlings sal later bekend gemaak word. Die familie het kunstenaars, vriende, ondersteuners en lede van die publiek bedank vir die boodskappe van medelye en ondersteuning wat uit Suid-Afrika en die buiteland ingestroom het.
’n Polisie-ondersoek na die ongeluk is volgens Streicher aan die gang.