Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se finale kiesersregistrasienaweek het vlot vlot afgeskop, met meer as 238 000 kiesertransaksies wat teen Saterdagmiddag landwyd aangeteken is.
Die OVK sê meer as 99% van die land se 23 699 stemlokale het Saterdag betyds om 08:00 oopgemaak. Kiesers kon hul besonderhede by stemlokale opdateer of aanlyn registreer ter voorbereiding van die 2026- plaaslike regeringsverkiesing. Die meeste transaksies het verband gehou met die opdatering van bestaande kiesers se registrasiebesonderhede. Sowat 30 000 nuwe kiesersregistrasies is teen middagete aangeteken, wat 13,4% van alle transaksies verteenwoordig. Van die totale aantal transaksies is 198 232 by stemlokale afgehandel, terwyl die OVK se datavrye aanlyn registrasieportaal ’n verdere 20 078 transaksies geregistreer het.
KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng het die grootste kiesersaktiwiteit aangeteken, gevolg deur Limpopo, die Wes-Kaap, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Die OVK moedig kiesers aan om van die finale registrasienaweek gebruik te maak om seker te maak hul besonderhede is korrek en dat hulle geregistreer is om aan die 2026- plaaslike regeringsverkiesing deel te neem.





