GAUTENG. – Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) het een van Suid-Afrika se mees ontstellende dierewelsynsrampe tot dusver ontbloot. Meer as ’n miljoen hoenders is by Daybreak Farms in Gauteng verlate, uitgehonger en aan hul lot oorgelaat. Daybreak is ’n staatsgefinansierde maatskappy en die NSPCA het bevestig dat kriminele klagtes teen die direksie ingedien gaan word kragtens die Wet op Dierebeskerming.
Massakanibalisme en erge verwaarlosing
Die krisis het op 30 April 2025 aan die lig gekom toe die NSPCA ’n klag ontvang het oor 200 000 hoenders by ’n kontrakboer van Daybreak Farms wat al vir dae lank sonder kos was. Massakanibalisme het uitgebreek en die voëls, ouer as 28 dae, maar ligter as 700 gram, was erg verwaarloos. ’n Pluimveedierearts het bevestig dat hulle nie gered kon word nie. Die NSPCA het toe toestemming gekry om die diere uit hul lyding te verlos.
Op 1 Mei het Daybreak Foods formeel aan die NSPCA geskryf dat hulle nie meer voer kan voorsien nie, weens finansiële ineenstorting. Die maatskappy het die NSPCA gemagtig om van die hoenders ontslae te raak, ’n daad wat die NSPCA as “effektiewe verlating van die diere” beskryf.
Mees emosioneel en fisiek uitputtende operasies – NSPCA
“Dit was een van die mees emosioneel en fisiek uitputtende operasies wat ons span al ooit moes hanteer,” het Senior Inspekteur Nazareth Appalsamy, bestuurder van die NSPCA se eenheid vir plaasdierebeskerming, aan Nuusflits gesê. “Ons was nie daar om lewens te red nie, ons was daar om lyding te beëindig. En dit breek elkeen van ons.”
Daybreak Farms se oorspronklike plan om die honger hoenders na hul abattoir te stuur is deur Veterinêre Openbare Gesondheid afgekeur. Die uitgemergelde diere was te klein vir die slagtoerusting, wat ’n ernstige risiko vir onmenslike slagting ingehou het.
Die NSPCA het binne ure ’n rampbestuurspan van meer as 100 personeellede en vrywilligers van plaaslike DBV’s gemobiliseer. Tussen 30 April en 5 Mei is honderde duisende hoenders óf gered óf genadiglik uitgesit. Meer as 500 000 is op herplaasplase geplaas waar hulle weer begin eet het. Ongelukkig moes meer as 350 000 voëls vanweë hul toestand doodgemaak word.

Reuk was ondraaglik
Inspekteurs het tonele van verskriklike verwaarlosing beskryf. “Skeletagtige hoenders het teen mekaar saamgedrom. Voerlyne was leeg. Sommige het vir meer as sewe dae niks geëet nie. Die reuk van dooie diere was ondraaglik,” het Appalsamy gesê.
Ten spyte van openbare verontwaardiging en mediadekking het Daybreak volgens die NSPCA geen bystand gebied nie. “Wanneer nywerheidslandbou faal, is dit weer eens die DBV, ’n nie-winsgewende organisasie, wat die las moet dra,” lui die verklaring.
Die NSPCA gaan nou strafregtelike vervolging instel teen Daybreak se direksie vir verlating, verwaarlosing en onnodige wreedheid. “Hierdie ramp wys duidelik: wanneer wins faal, moet deernis die stukkies optel. En die vraag bly staan: wat sou gebeur het as ons nie daar was nie?”
Die NSPCA het hul opregte dank uitgespreek teenoor die DBV-spanne van Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston, Heidelberg, Johannesburg, Kempton Park, Midrand, Nigel, Parys, Randburg, Randwest, Roodepoort, Sandton, Springs en Tshwane.
“Ons sal nie rus totdat geregtigheid geskied nie,” het die NSPCA gewaarsku.





