KWAZULU-NATAL. – ’n Aanlyn fondsinsamelingsveldtog wat aanvanklik begin is om R5 000 in te samel vir ’n nuwe koffiemasjien vir polisiebeampte, AO Karl Sander, het binne twee dae skouspelagtig gegroei tot meer as R200 000. Plasings oor Sander oorheers tans sosiale media.
Die veldtog, wat deur Kyle van Reenen via die Back a Buddy-platform van stapel gestuur is, is begin om die langdienende polisiebeampte van meer as 40 jaar ná sy getuienis voor die Madlanga-kommissie te ondersteun.
Sander het tydens sy getuienisaflegging vertel van ’n persoonlike voorval waartydens sy koffiemasjien uit sy kantoor gesteel is en hy boonop as ‘n verdagte in die diefstal hanteer is. Hy moes daarna ‘n poligraaftoets ondergaan vir die diefstal van sy eie koffiemasjien, wat hy geslaag het. Die koffiemasjien, hoewel ’n klein item, het vir hom persoonlike waarde gehad as ’n bron van troos tydens lang en veeleisende werksdae.
Hy het voor die kommissie getuig oor meer as 500 kg kokaïene wat gedurende November 2021, terwyl hy op vakansieverlof was, by die Valke se Port Shepstone kantoor gesteel is. Hy is gister voor die kommissie van enige aanklagte vrygespreek.
Van Reenen sê Sander het dikwels in die voorste linies gewerk waar hy hom aan dienslewering en gemeenskapsveiligheid gewy het. Die publiek het ruim bygedra en binne 48 uur is ‘n enorme bedrag ingesamel.
Van Reenen het Dinsdagaand in ‘n stadium geammuseerd gesê hy was nie bewus daarvan dat die BackaBuddy bediener (server) gebreek kan word nie.
Volgens Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) is die verdwyning van gekonfiskeerde dwelms uit polisiebewaring nie ’n unieke probleem vir Suid-Afrika nie, maar deel van ’n wêreldwye patroon van beweerde diefstal van bewyse, korrupsie en swak beheer binne sekere wetstoepassingsomgewings.
Die Port Shepstone-voorval in KwaZulu-Natal, waar 541 kg kokaïen uit ’n Valke-fasiliteit verdwyn het, is ’n voorbeeld van hoe ernstige leemtes in bestuur en veiligheidstelsels groot operasies teen georganiseerde misdaad kan ondermyn.
Bolhuis waarsku dat, sonder sterker beheermeganismes, beter sekuriteit en groter aanspreeklikheid binne bewysbestuurstelsels, wetstoepassingsagentskappe wêreldwyd sal voortgaan om ernstige uitdagings in die stryd teen dwelmhandel en georganiseerde misdaad te ervaar.
Druk hier om meer te lees.





