Werner de Jager (43), die eggenoot van Liezel de Jager (38), die vermoorde dominee van Amanzimtoti, was ongeveer drie jaar terug vir ’n dag lank vermis.
Liezel se liggaam is op 13 Oktober by haar pastorie in Amanzimtoti in die tuin gevind.
Liezel het die dag van haar dood uit ouder gewoonte saam met ’n drafgroep gaan draf. Haar liggaam is omstreeks 07:00 deur haar man buite by die agterdeur van die pastorie gevind.
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig de Jager se liggaam is met wurgmerke gevind en geen van haar besittings is gevat nie.
De Jager se man, Werner, het volgens berigte daardie oggend die egpaar se twee kinders (ses en 10 jaar oud) reggekry vir skool.
Netwerk 24 het berig die pastorie se panniekknoppieis omstreeks 06:00 daardie oggend gedruk, waarna Werner vir die sekuriteitsmaatskappy gesê het hy het dit per ongeluk gedruk. Skaars ’n uur later het hy dieselfde maatskappy gebel en gesê hy het op sy vrou se liggaam afgekom.
Netwerk24 het ook berig die panniekknoppie is met ’n vorige geleentheid, binne enkele dae, ook gedruk.
Terwyl die egpaar in Kanoneiland gebly het, het Liezel op noodgroepe in Junie 2018 hulp gevra om haar man op te spoor.
“Die dominee op Kanoneiland vermis haar man al heeldag, voertuig is weg, selfoon is af. Silver Toyota Aigo Hatchback {registrasienommer}. Die man se naam is Werner de Jager,” lui die boodskap.
Dit is nie duidelik of hy as ’n vermiste persoon by die polisie aangemeld is nie.
Die polisie het ’n saak van moord geopen. Niemand is al in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
LEES OOK: 33 kg ligter in sewe maande





