Mel Viljoen beweer Peet word in Kgosi Mampuru bedreig: ‘Hy vrees vir sy lewe’

Lees ook :

PRETORIA. – Mel Viljoen het Vrydagoggend alarm gemaak oor die veiligheid van haar man, Peet Viljoen, wat tans in die Kgosi Mampuru II-korrektiewe sentrum in Pretoria aangehou word.

In boodskappe wat Mel aan Nuusflits gestuur het en wat aan Nuusflits beskikbaar gestel is, beweer sy dat Peet haar omstreeks 09:00 Vrydagoggend vanuit die korrektiewe sentrum gebel en gesê het dat hy deur ’n bewaarder bedreig word.

Volgens Mel het Peet gesê hy vrees dat hy aangerand kan word.

“Hy vrees vir sy lewe daarbinne,” het sy in die boodskappe gesê.

Mel beweer verder dat die betrokke bewaarder betalings van gevangenes sou eis en dat diegene wat nie betaal nie, na bewering aan intimidasie en geweld blootgestel word.

Nuusflits beklemtoon dat dié bewerings in hierdie stadium nie onafhanklik bevestig kon word nie. Die naam van die bewaarder word om dié rede nie gepubliseer nie.

Volgens Mel het sy reeds ’n senior amptenaar van Korrektiewe Dienste gekontak en haar kommer oor Peet se veiligheid aangemeld.

“Ek het die kommissaris gebel en hy het gesê hulle gaan dringend kyk wat gebeur,” het sy gesê.

Sy het later gesê sy is bekommerd omdat sy nog nie weer van Peet gehoor het nie en omdat hy haar volgens haar slegs vanuit die gevangenis kan bel wanneer hy toegang tot ’n “tiekieboks”-telefoon het.

Peet bly in aanhouding

Peet Viljoen is sedert sy terugkeer na Suid-Afrika in Junie in aanhouding.

Hy is by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat hy uit die Verenigde State teruggekeer het en staan tereg op meer as 400 aanklagte, waaronder bedrog, korrupsie, diefstal en vervalsing, wat verband hou met ’n beweerde eiendomsbedrogskema.

Die staat opponeer sy borgtogaansoek. Sy borgtogverhoor is op 23 Julie uitgestel en sal na verwagting op 17 Augustus voortgaan.

Die aantygings teen Viljoen in dié strafsaak is nog nie in ’n verhoor bewys nie.

Korrektiewe Dienste om kommentaar gevra

Nuusflits het die Departement van Korrektiewe Dienste genader oor die bewerings en onder meer gevra of die departement bewus is van ’n beweerde bedreiging teen Viljoen, of stappe gedoen is om sy veiligheid te verseker en of enige ondersoek na die beweerde optrede van ’n korrektiewe beampte ingestel is.

Die departement is ook gevra om te reageer op die bewerings dat gevangenes vir betalings genader en met geweld gedreig sou word.

Hierdie artikel sal opgedateer word sodra Korrektiewe Dienste se kommentaar ontvang word.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief