LIMPOPO. – Polokwane-munisipaliteit het bevestig dat menslike oorskot by een van sy munisipale begraafplase ontdek is. Die voorval is onmiddellik by die polisie aangemeld. ‘n Munisipale werker het die die liggaam in ‘n gevorderde stadium van ontbinding by ‘n boom aangetref. Die kop van die liggaam het met ‘n tou aan ‘n tak van die boom gehang.
Volgens voorlopige inligting is die menslike oorskot in ’n beboste deel in die begraafplaas gevind en nie naby gemerkte grafte nie. Die polisie was reeds op die toneel en het ’n formele ondersoek van stapel gestuur om die omstandighede van die ontdekking vas te stel.
Makoro John Mpe, die uitvoerende burgemeester, het Vrydag gesê die ontdekking van die menslike oorskot wek groot kommer en die munisipaliteit waardeer die vinnige optrede van die polisie en ander rolspelers. Hy het die publiek versoek om nie te spekuleer nie en om owerhede die nodige ruimte te gee om die ondersoek deeglik en professioneel af te handel. Hy het bygevoeg dat verdere inligting bekend gemaak sal word sodra dit amptelik bevestig is. Die munisipaliteit werk ten volle saam met wetstoepassingsowerhede en sal voortgaan om ondersteuning te bied om te verseker dat die ondersoek sonder enige belemmering verloop.
Lede van die publiek word versoek om kalm te bly en nie ongeverifieerde inligting te versprei terwyl die ondersoek aan die gang is nie.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, het die polisie ‘n geregtelike doodsondersoek oopgemaak. Die oorledene was in ‘n wit Puma T-hemp geklee. Enigiemand met relevante inligting word gevra om sers. Frans Maake by 082 729 0083 te bel.






